In hierdie verkennende bydrae sal ons rapporteer oor die gebruik van patriotisme as 'n oorredingstegniek in Suid-Afrikaanse advertensies. 'n Tipiese voorbeeld (hier word slegs die verbale aanbod gegee) van hierdie tipe oorredende teks: "Like millions of South Africans, we are supporting you all the way."
Die bydrae sal verdeel word in twee dele, nl. 'n beskouing van die verskynsel en die gepaste teoretiese raamwerk waarbinne dit ondersoek moet word, en 'n verslag oor die toetsing van die effektiwiteit van hierdie tipe advertensies onder Suid-Afrikaanse lesers.
Daar word eers aandag bestee aan die definisie van die konsep patriotisme (veral in relasie tot ander verbandhoudende konsepte soos nasionalisme en chauvinisme). In die definisie sal daar ook besondere aandag bestee word aan sterk emotiewe karakter van die tipe oorreding. Die relevansie van die Elaboration Likelihood Model vir die beskrywing en ondersoek van die verskynsel sal bespreek word, veral met verwysing na die gebruik van die besondere heuristiek en die inspeling op 'n lae vlak van "elaboration".
Die ondersoek word gebaseer op 'n detail-analise van 20 advertensie wat in die Afrikaanse media verskyn het. In die beskrywing van die tipe word onder andere aandag bestee aan die verskillende subtipes in hierdie oorredende tekstipe, retoriese en grafiese tegnieke wat aangewend word in die tipe advertensie, asook die kontekste waarin die tipe advertensie tipies funksioneer.
Daarna word 'n verslag gelewer van die lesergerigte toetsing van drie van hierdie advertensies. Die ondersoek neem die vorm aan van 'n vraelysondersoek deur middel waarvan die effektiwiteit van en waardering vir hierdie advertensies gemeet is onder twee bevolkingsgroepe, naamlik wit en bruin lesers. Daar bestaan naamlik 'n vermoede dat, veral binne die besondere Suid-Afrikaanse konteks, verskillende bevolkingsgroepe verskillend sal reageer op hierdie tipe oorreding. Spesifieke veranderlikes wat ondersoek word, sluit in respondente se houdings oor patriotisme, hulle houdings oor die kommunikasie van patriotisme, die mate van oorreding wat plaasvind, die aandag wat die advertensies trek, die waardering vir die advertensies, en die mate waarin die patriotisme van die leser positief of negatief beïnvloed word deur die advertensies.